Droom
Sou ek die dorpie eendag weer bereik
tussen die bog van rante en rivier
waarbo die kerk se koepel sierlik pryk,
onaards en swewend in die skemeruur?

Sou ek nog eens my ooglede kon sluit
tussen my hart en alles rondom my
wanneer die klok se roepende geluid
weer koel en suiwer uit die toring gly?

As ek weer oor die skurwe kweekgrasmat
en kolle sagte kalkstof kaalvoet gaan,
en die mimosabome langs die pad
gebonde in hul bloeiselnette staan?

En sou die aand deursigtig word en wyd,
’n sagte rook wat al die leegtes vul,
die wilgers tastend afbuk oor die spruit
wat glaswit om hul tinger fraiings krul?

Ek weet nie of dit is herinnering
aan iets wat was of iets wat moet gebeur,
’n wegkom uit die tyd se strakke kring,
’n vlug na die verlede, vreemd en teer…

Ek weet net dat die skemering traer is
en glimmender en blou soos perlemoer
en dat die gitswart vlug van voëls die lug
van horison tot horison deursnoer.

Uit: Die vrou en ander verse, 1945

Erfstuk
Die stinkhoutkas het gister ingetrek.
Sy grimmige voogdyskap het getroon
oor al my kinderjare: nou moet ek,
ylhoofdig van herinnering, by hom woon.

Van dié vermaledyde ambag moeg
maar nog vol sarrende halsstarrigheid
wou ek verlede nag ’n vers uitswoeg
van woorde flitsend uit my vroegste tyd:

klanke wat glad of kantig op die tong
getintel het, waarvan die smaak vergaan –
lampolie, klepel, kraffie, lampetkom,
serfyn, aluinsteen, lanfer, lewertraan…

Die kronkels van my oorkanaal was vol
sagtartende sillabes wat kon toor
dat dertig jaar smelt tot ’n kaiingkol;
maar koekmakranka, wilde-als, konfoor,

kateder, doopvont, vysel en vergiet,
kwepersambal en karbolineum
bly onversoend en eensaam – dis verniet
dat ek hul ryg tot rym en ordening,

dat ek hul sif en skuif met oë wat skroei
van soek na ’n besweringsformulier

want hulle het plots geflikker en vervloei
tot mene, mene, tekel teen die muur.

Uit: Neerslag, 1958

Terug
Transekwatoriale swaartekrag
het my hierheen gebagger. Elke nag
tregter my terug na my geboorteland,
die einder dobberend tussen son en sand.

Wie ’k dáár aantref keer weer van verder weg,
vader en moeder, ons geskil besleg,
kleinsus heelhuids ontskadu, nog my maat
by spel, fantastery en kattekwaad.

Soms kom die mede-oorwinterende by,
hy wat ek, uit my kinderkluis bevry,
te blindelings aangekleef het om daarná
die werklikheid omtrent hom te verdra.

Verdoof deur duif en merel luister ek na
gedempte reënvoël of skel hádida:
vreemd hoe ek steeds die hede en hier verraai,
sodra ek kans kry gou ’n kaapse draai

beskryf, onmiddellik ’n landskap vind
waaraan die donkerste gebrek my bind,
hoe agteloos ek draal in dié gebied,
helder oordag selfs, één voet in die niet.

Uit: Bestand, 1982

Nostalgiese vers
Om weer aan glinstering te glo
– kristal uitstippeling van die hemel –
moet ek herinnering inroep,
die nag met stof-en-bloekomwasem,
my seilbed op die leiklipstoep
klein teen die sandsteenpastorie,
die uitgedoofde dorp, daarbo
oneindige diamantgewemel.
Die aandklok tingel en die lied
uit die vereilande lokasie
bly vlaag op donker vlaag aanspoel:
veelstemmige, bedwelmende verdriet.

Orion die kopstaan-harlekyn
het sy smal middel ingebind
en rats ’n halwe rad geslaan
om op sy voete te beland,
sy swaard juweelstyf aan sy sy,
maar watter rol het vir hom oorgebly?
Die sterre is geblus tot skyn van skyn.

Al sien ek op ’n winteraand
die wakker Hondster lig uitpols
is die onwrikbare Suiderkruis
vir goed verby die horison verdrink.

Uit: Bestand, 1982